
Bybelskool
Ons Bybelskool funksioneer as deel van die Evangelisasie Kommissie. Die basiese doelstelling is om
lidmate te lei om hulle dissipelskap Christusgesentreerd uit te leef, maar ook om met God se Woord
en Waarheid die gemeenskap te bedien. Dit word en is tot dusver onderneem deur sessies wat op
Sondag middae aangebied is. Verskeie onderwerpe op grond van temas is aangespreek. Hierdie
lesings is dan ook aan die gemeente beskikbaar gestel, om dit verder te bestudeer vir eie opskerping
en ook om so met die nodige kennis verder in die praktyk ander te bereik. ‘n Belangrike goue draad
wat deur alles loop, is kennis van God – wie Hy is, hoe Hy Homself in die Bybel in sy volheid aan ons
openbaar. As dissipels is ons as gelowiges daar om sy waarheid in ons eie lewe nie net vas te lê nie,
maar ook dit met die nodige moed en oortuiging te verkondig.
Die Bybelskool is in der waarheid ook
daar om ander bedieningsaksies te versterk, waarvan die prediking en katkisasie uiteraard ‘n
belangrike deel is. Dit alles geskied en word onderneem om God te eer as dié Een wat alles geskape
het en aan wie alles behoort. Geen deel van die lewe en heelal is van sy heerskappy uitgesluit nie.
Ons sien met opgewondenheid uit na ‘n nuwe inisiatief ter bereiking van ons doelwitte, naamlik die
opneem van kort videos vir uitstuur na die gemeente en ander dele van die gemeenskap. Daar word
tans beplan aan hierdie videoreeks met die tema “Die Verbond”. Ons dink dit gaan baie sinvol wees,
om juis so God nog verder ten opsigte van sy wese te leer ken ten einde geloofsgroei deur die
werking van die Heilige Gees te bewerk en mede geloofsgenote op te bou. As Verbondsgod is God
getrou en onveranderlik. Hy vra ook van ons as dissipels gehoorsaamheid en ‘n horende en
luisterende oor: “As jy goed luister na hierdie bepalings en hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe,
sal die Here jou God sy verbond nakom en sy troue liefde aan jou betoon soos Hy aan jou voorvaders
met & eed beloof het (Deuteronomium 7:12).
Ons is nog besig om ons materiale in plek te kry. Dit sal hier gelaai word sodra dit gereed is.
Verlossing
Wat is Evangelisasie?